In Suid Afrika word mens bederf met lig en spasie. Jy kan jou seëninge hier in Engeland tel indien jy ‘n kamer kry wat groot genoeg is om jouself in te draai, sonder om jou pimpel en pers te stamp en wat ook enige natuurlike lig inlaat. Vir ‘n Suid-Afrikaner wat gewoond is aan ‘n groot twee-slaapkamer meenthuis, waar jy die gordyne moet toetrek om die warm middagsonnetjie uit te hou, is hierdie nogal ‘n vreeslike aanpassing!! En meeste van die tyd, kan jy niks daaromtrent doen nie. Wat jy wel kan doen,is om die illusie van spasie te probeer skep en soveel as moontlike lig innooi deur dit te weerkaarts en so te vermenigvuldig. Daar is ‘n maklike manier om dit te doen: met behulp van die goeie gebruik van spieëls.
Indien jy ‘n plek huur, kan jy rondspeel met ‘n paar lekker groot vollengte spieëls of ‘n kombinasie van vierkantige spieëls teen jou muur. Spieëls is veeldoelige items en kan dekoratief en prakties aangewend word. Indien jy een van daardie gelukkiges is wat jou eie huis kan koop en dit ‘n facelift wil gee, gebruik spieël skuifdeur-kaste vir jou kamers. Dit skep dadelik die illusie dat die kamerruimte groter is as wat dit werklik is. Lig weerkaats in spieëls en dit dra dan verder daartoe by om lig in jou kamer in te nooi! Aangesien meeste seisoene oorheers word deur donker, grys bewolkte weer is enige lig vreeslik welkom!
Die nuutste tendens is om ‘n langwerpige spieël bokant jou bedkassie te hang. Hierdie tendens is nie net ‘n modegier nie, maar ook ‘n praktiese manier om die doel van ‘n spieëlkas te vervul sonder om jou reeds beknopte kamertjie nog verder met ‘n bonkige spieëltafel te beknop.
Daar is n verskeidenheid vorms en rame beskikbaar. Maak seker om een te kies wat by jou vertrek se styl, kleurskakering en tema pas.Ek het by nog ‘n Suid-Afrikaner, Liezel Strauss, die holistic interior designer en contributing editor vir apartmenttherapy.com, gaan inloer. Sy bly deesdae in Hamburg en sy het die volgende raad oor spieëls:
“Spieëls is wonderlike goed! Hulle is funksioneel en skep ‘n bietjie glamour in die donkerste hoekies. Moet jouself nie tot nuwe spieels beperk nie. Snuffel gerus op “salvage” websites soos lasso.co.uk of www.re-foundobjects.com vir ou spiels. Dit sal ‘n unieke en ou-wêreldse glamour aan jou huis gee en dis boonop goed vir ons planeet om recycled/ salvaged items te koop. .Gebruik spieëls in oorvloed, groepeer ‘n paar saam; kombineer verskillende style en vorms of herhaal een styl vir ‘n dramaties effek. Maar een ding is verseker: in hierdie grys weer het ons soveel lig as moontlik nodig. So maak seker om ten minste ‘n paar spieëls in jou huis te hê.”
Dus…spieëltjie spieëltjie aan die wand, waar sal ek julle ophang…linker of regter kant…? |