Liewe Rentia, Ek is 'n dame in my laat dertigs en is uitgaande en jonk van siel. Ek geniet 'n kuiertjie saam met vriendinne en is versop op uitgaan vir etes, die opera en teater opvoerings. Maar van dese voel ek gespanne en heeltyd op aandag en ek kan nie meer enige uitstappies geniet nie. Ek het 'n vreeslike probleem. Vernederend meer as vreeslik, maar steeds as 'n dame is dit, volgens my, ongehoord en heel onvanpas. Die probleem is wind. Ek het vreeslike wind. En ek weet nie hoekom nie. Ek leef gesond, eet definitief gesond met baie groente en vrugte, maar ek kry hierdie aaklige winde, wat as dit nie (verskoon tog asseblief die taal) onder uit nie, kom dit bo uit en dit gebeur ongelukkig nie sagkens of in stilte nie, maar met 'n basuin en geklap wat mense laat skrik en staar. En dan is daar nog partykeer meer as net een klank, as jy weet wat ek bedoel... Ai, dis so vernederend, daar is nie woorde wat my skaamte kan beskryf nie. As ek dit nog kon beheer sou dit beter gewees het, maar dit kruip onverwags op en bespring my voor ek kan keer of koes. As ek wel die moed bymekaar skraap om die huis te verlaat is ek gespanne en verwag altyd die ergste. My vriendinne was ondersteunend oor die saak, maar ek vermoed hulle het maar moed opgegee en wil nie ook betrokke raak of gesien word as 'die wind vrou' se maters nie. Ek het nou al elke boereraat, krui en olie onder die son probeer, maar steeds sluimer die wind soos 'n skaduwee, orals waar ek gaan. Asseblief Rentia, as daar enige iets is wat jy kan voortel of iets wat ek moet probeer, sal ek dit uit die diepte van my hart (of sal ek se maag?) waardeer. My sosiale lewe is besig om te verdwyn en depressie is sekerlik net om die draai. Anoniem
Liewe Anoniem Jou arme mens. Dit wil vir my voorkom asof jy werklik die wind van voor het! Ek kan verstaan dat baie vernederend moet wees. Jou ontydige “gasvryheid” kan nie baie aangenaam vir jouself en die mense in jou teenwoordigheid wees nie. Ek is nou nie in ‘n posisie om mediese raad uit te deel nie, maar daar is wel ‘n paar riglyne wat ek kan voorstel. Dit klink vir my dat hoe jy die situasie gaan hanteer die mees raakvat raad gaan wees. 1. Tydens sosiale geleenthede vermy liefs die komplimentêre grondboontjies 2. Probeer om jouself in die tipe situasie te plaas waar jy eerder in groterige OOP vertrekke kan sosialiseer. Die reuk sal vinniger verdwyn. 3. Beweeg meer rond, sodra die winderigheid kop uit steek sodat die ander mense in jou teenwoordigheid ook van die glipsie verdink kan word. 4. Indien moontlik, probeer voortydig bepaal in watter rigting die wind beweeg. As dit dan meer ”suid “ is , praat skielik hard om sodoende die klank te demp. Ek het werklik simpatie met die krisis wat jy beleef maar onthou asseblief dat dit ‘n baie normale gang van die natuur is en dat dit almal die een of ander tyd oorkom. Jou geval is wel uniek, maar dit help nie om gespanne daaroor te raak nie, want dan gaan juis ‘n lopende “tydbom” raak met geen einde in sig nie. Sterkte en laat gerus weer van jou hoor. Rentia
|