Liewe Rentia, Ek is ‘n 23 jarige man wat jou raad dringend nodig het. Ek en my 19 jarige chick verwag ons eerste kind en alhoewel dit nie beplan was nie, is ons baie opgewonde en verheug oor die nuus. Die laaste paar maande het ons vreeslik vasgesit en oor alles baklei en sy het my selfs vir ‘n week uit die woonstel uitgesluit en ek moes maar rof slaap waar ek kon. Maar met die baba-nuus het ons probleme agter ons gesit en na die toekoms gekyk en dinge is nou uiteindelik weer oraait tussen ons. Tot 3 weke gelede, toe my meisie se ma aankondig dat sy ook swanger is. Die hele familie was maat bietjie geskok, maar almal het aanvaar dat sy en haar man in hulle laat veertigs seker maar nog een kan hanteer. Almal behalwe my meisie. Sy was briesend. Sy voel haar ma vat die aandag van haar af. Ek was heeltemal stomgeslaan. Toe my meisie my uitgesmyt het, het ek een aand, dronk en bedroewig aan die deur gehamer en haar ma het oopgemaak. My meisie was uit en sy nooi my toe in vir ‘n drankie en na ‘n paar het ek my hart aan haar uitgestort. Voor ek weet wat gebeur soen sy my vol op die lippe en plaas my hand op haar linker boesem en een ding lei na ‘n ander en stort ek meer as net my hart uit! Dit was die beste seks ooit, sommer daar op die sitkamer mat. Maar die volgende oggend het ek so skuldig gevoel en het ek haar ma laat sweer niemand mag ooit uitvind van die glips nie. Ag kakhuis, wat ‘n tameletjie! Nou het ek moontlik twee kinders oppad. Twee! En as my meisie moet uitvind, is dit verseker die einde van ons. Ek is regtig lief vir haar en wil nie haar ma of nog ‘n baba hê nie. Help, wat moet ek doen?!?! Te Katools, Portsmouth
Liewe Katools Klink vir my asof jy jou besige handjies lekker vol het! Eerstens wil ek sommer dadelik wegval en jou maan oor die feit, dat jy een van die moeders van een van jou “moontlike” kinders, “chick” noem. Is jy bewus daarvan dat “chick” se direkte vertaling as volg beskryf kan word: pops/popsie, dolla, nuffie, vetertjie, trensie, trepseltjie, flossie, dingetjie of laslappie. Ek dink nie dat sy dit baie waardeer as daar op hierdie manier na haar verwys word. Ek weet nie in watter wêreld dele jy die voorreg gehad het om in groot te word nie, maar so ver dit my mening aangaan, is dit dood eenvoudig slegte gedrag en definitief iets wat jy moet aanspreek.
Wat daarvan as jy as volg na haar verwys: vrou, skoner geslag, gade, wederhelf, eggenote, gemalin, nonna, nonnie, ounooi en beter helfte. Ja Katools, jy sal seer sekerlik dan ook kan agterkom dat ek juis verwys na benamings van getroude dames, want ek dink ook dis hoog tyd dat jy jou sokkies moet optrek en hulle minder moet uittrek op elke geleentheid wat jy behoeftig raak en ‘n waardige vrou van jou “chick” maak. Ek weet julle is nog jonk, maar jy moes daaraan gedink het voor jy jou hart en jou “nageslag” so na hartelus uitgestort het.
Ek het absoluut geen simpatie met die feit dat jy haar ma ook moontlik swanger gemaak het nie en as jy dink jy gaan dit ‘n geheim kan hou het ek nuus vir jou. Gene het maar die manier om op alle tydige en ontydige geleenthede kop uit te steek, en as jou kroos groter en ouer gaan word sal vrae begin ontstaan, vrae soos: “Mamma, hoekom het tannie of oom ook ‘n ekstra vingertjie soos ek”? Ek dink dit is wys om eerder so gou as moontlik almal van die nuus bewus te maak en dan moet jy maar jou man staan en die gevolge dra. Daar is absoluut geen ander uitweg nie! Sterkte Katools, jy het dit duidelik nodig. Rentia
|