Die Stem
 
Epos 'n vriend    Epos die redakteur
Tuisblad
Nuus

Sport

Leefstyl

Reis

Gebeure

Foto's

Snuffelgids
Verspreiding
Adverteer
Oor Ons
Kontak Ons




Visit Homecoming Guide

Visit Nicro Gala Dinner


Rome kunstenaars paradys

rome


Nesskrop

Babette soek haar ewe beeld

Rentia gee raad

Nesskrop

Rentia gee Raad

Babette hou die blink kant bo

Nesskrop

Babette skop haar skoene uit

Rentia gee Raad

Die Spanjaard se reis

“Kyk, die stad gooi haar arms vir ons oop om ons welkom te heet!” Die kinders lag vir my melodramatiese uitroep, maar die stad en sy mense se oopheid en die helder invalshoek van die lug sal ons by bly.


 


Ons blyplek is nog dieper in die “hart” van die stad as wat ons gedink het. Ons verken die eerste dag ons buurt, met die smal straatjie omsoom van elegante klein klerewinkels en restaurantjies, wat na Piazza Navona lei. Piazza Navona het die kinders se genot in Rome opgesom. Na ‘n lang dag uit het hulle nog altyd weer lus gehad om gou ‘n vars uitrusting aan te trek en om weer op die Piazza te gaan rondhang. Die piazza is Bernini se Fontein van die Vier Riviere en Ai Tre Scalini se donker sjokolade roomysbom; dis die kunstenaars wat roerloos standbeeld staan en die kunstenaar wat met vingerpoppe tango dans; dis die donker aantreklike Leo wat potloodsketse van die kinders skilder, dis uiteet en ronddrentel en Rome se La Dolce Vita ervaar met alle sintuie.


Hierdie hoekie van Rome was vir ‘n hele agt dae ons buurt. Saam met die locals het ons soggens op Campo de’Fiori gaan vrugte koop by mense net so kleurvol as hulle vars ware en dan het ons die stad ingevaar. Ons het die dag afgesluit saam met die locals in straatkafeetjies en die eerste fase van die 2006-sokkerkoors beleef, min wetende van wat nog voorlê! Teen elf-uur saans het ons nog vir oulaas by die vensters uitgehang om nog iets van die naglewe, wat eers teen drie-uur ophou, in ons straatjie te ervaar.‘n Oomblik wat vir my die helderste uitstaan, is die eerste oggend se ontdekking. Die kinders het nog die roes van die vorige dag se reis afgeslaap en ek het so teen sewe-uur gaan stap – so sommer agter my neus aan, oor die Engele-brug en daar staan St Peter’s-katedraal in al sy glorie in die vroegoggend-son voor my met feitlik geen verkeer nie en nog bitter min mense op straat. Dis tóé dat Rome so haar arms oopgooi om welkom te sê. Die stilte om St Peter’s het egter gou verander in ‘n roesemoes van mense op die plein. Ons het ‘n hele reeks “Spot the Pope”-foto’s. (Ja, ons hét Benedict sommer so op dag een gesien, nou wel op ‘n afstand, maar duidelik op die groot skerms.)


Was dit dieselfde dag wat ons nog ook na die Pantheon en Trevi-fontein gaan kyk het? Soveel indukke, soveel belewenisse. Daar het ‘n blaasorkes in die Pantheon weerklink en ‘n man het in die Trevi-fontein ingeklim, hande vol geld opgeskep en nonchalant weer uitgeklim. Alles is verbasend binne loopafstand en sommer so agter die neus aan.


Natuurlik was daar ‘n uitgebreide toer na die Romeinse Forum en die gids het die Kolosseum met sy gruverhale van bloed en oordaad vir ons laat herleef. Na Titus se oorwinning oor Jerusalem is daar 200 dae lank fees gevier in die Kolosseum en die bloeddorstigheid het werklik geen perke geken nie.


Domitianus (81 nC) se paleis op die Palatine-heuwel was ‘n welkome verposing van stilte en vrede en bied ‘n wye hoek uitsig oor die forum. En daar lê 2 700 jaar se voetspore – Julius Caesar, Nero, Petrus, Michelangelo, Napoleon, Mussolini. Laag op laag geskiedenis.


My vroegoggend-wandeling op ons laaste oggend in Rome is weer so ‘n oomblik van verstommende verrassings. In 1561 het die Pous vir Michelangelo die opdrag gegee om ‘n deel van Diocletius se baddens in ‘n kerk te omskep. En daar staan die Santa Maria degli Angeli, ‘n oorweldigende ruimte met 15 meter hoë roos-rooi granietpilare en dit beslaan slegs die helfte van die oorspronklike ruimte. En om die tydlyn nog verder te voer, is daar in 2005 nuwe reuse-voordeure met moderne reliëf ingewy.


Ons reis na Rome was beplan vir begin Junie om so die ergste hitte en die grootste gedrang van toeriste vry te spring. Die eerste doelwit is met sukses behaal – ons het heerlike gematigde sonnige somersdae gehad. Wat toeriste betref, het dit gewissel. Die Trevi-fontein was omring van ‘n mensemassa, bedags en saans, en so ook die Pantheon. Die tou vir die Vatikaan-museum het om die Vatikaan gekrul en was ‘n lange twee ure se aflosstaan. Ons het die Sistynse Kapel gesien – saam met baie ander. Van die Spaanse Trappe het ons nie veel meer as mense gesien nie. Dit was eintlik die enigste teleurstelling. Daar word gewerk aan die kerk en die obelisk is toegewikkel vir restourasie en verder is dit net mense waar jy kyk. Dit het beslis anders gelyk toe Keats sy laaste asem in die pienk huis op die hoek uitgeblaas het. Hy was maar net 25 jaar oud! Ons stap vandaar met die Via dei Condotti in die geskelskap van Armani, Gucci, Versace, Valentino, Prada en Fausto Santini met “gorgeous, styled shoes at stratospheric prices”. Ons girls het darem ook ‘n ietsie gekoop – vir Jess (11 jaar) 3-vir-die-prys-van-1 polkadot-rompies in groen, geel en swart en vir Clea (15 jaar) so ‘n stylvolle wit nommertjie vir haar verjaarsdag op Capri. Die mans het hulle koppe teen motorruite gestamp soos wat hulle vir Clea beloer het. Italiaanse mans is nie skaam om te kyk nie! En Jess was “Bella Picolinni” - of was dit pikaninni! En ons girls het self ‘n paar keer gesug: “Ag, dit is nie lelik nie!”


“Roma, non basta una vita” – Rome, a lifetime is not enough. Agt dae is heeltemal te kort. Maar dit het gevoel asof ons werklik in Rome gebly het. Ons het nie al 10 van die 10 bestes van alles in die Top 10-Romegids gesien nie. Ons het toe nooit die Via Appia gaan stap nie – ons sal dit volgende keer doen – ons het mos die drie munte in die Trevi gegooi!


Ons het die meisies vir een dag van Piazza Navona weggeskeur en die treinreis na Tivoli onderneem. Die Villa d’Este-tuine is ‘n lushof van loof en water. Dis aangelê deur Ippolito d’Este, wat reeds op die ouderdom van 10 (!) aartsbiskop van Milan was.


Die protes was groot toe Ma nog verder ‘n bus na Hadrian’s Villa wou neem. Hadrian, ‘n Spanjaard, was Romeinse keiser gedurende die hoogtepunt van die Romeinse Ryk (117–138 nC) en het ‘n groot passie vir argitektuur gehad. Daar het slegs ‘n vyfde oorgebly van die villa, wat 300 hektaar beslaan het. Buiten ons gesin was daar net ‘n skoolgroep wat ons een keer teëgekom het. Dit was absoluut stil en idillies – net die natuur en ruïnes en die gekwetter van voëls. Dit is die tipe landskap wat in die Romantiese tydperk deur digters en skrywers besing is en wat in ons moderne gewoel feitlik uitgesterf het.


Nadat ons van ons heerlike blyplek en Piazza Navona afskeid geneem het en ons tasse na die derderangse jeughotel by die stasie gesleep het vir bewaring terwyl ons weg is, vertrek ons na die Amalfi-kus.


Ons eerste stop is Pompeji, ‘n besoek waarop ons deeglik voorberei is deur Jess se internetreise en Robert Harris se boek Pompeii. Dit is en bly aangrypend. ‘n Eienaardigheid aan Pompeji is die klomp maer honde wat orals tussen die ruïnes rondlê. Ons slaap die aand in Sorrento en dwaal deur die helderverligte straatjies waar die sokkerkoors aan die toeneem is by elke restaurant – en ek ontdek Limocello, die suurlemoenlikeur waarvoor die area bekend is. Mense, julle moet dit proe! Die Amalfi-kus is inderdaad die kus van die suurlemoen (se kus). Daar lê nou die mooiste suurlemoentafeldoekie oor die tafeltjie in ons blyplek. Ongelukkig is die Limocello nou op en gedaan. Dan met die veerboot oor na die eiland van Capri en dan ‘n busrit op na Anacapri. Die onbeskryflike draaie en loodregte afgronde en inkblou water doer onder was net ‘n bietjie te veel vir diegene met hoogtevrees in die familie. Villa Eva doen haar naam gestand as vriendelike klein herberg op Anacapri.


Amper vergeet, my dogter Clea verjaar vandag! Ook nie aldag dat ‘n mens 15 word op Capri nie, en die wit nommertjie word aangetrek en ons eet in die lig van die ondergaande son. Maar voor dit het ons ver gaan stap en gaan swem. Ek en Jess is met die boot in die Blou Grot in. Net voor ons het ons bootsman ‘n Brasiliaanse skoonheid in ‘n skamele tangatjie as passasier gehad. Die gekwetter van die bootsmanne oor die ou meevallertjie was skreeusnaaks. Al verstaan ons nie Italiaans nie, was die inhoud van die gesprekke duidelik genoeg! Ons het heerlik geswem en Clea het met twee jong Amerikaners begin gesels en die volgende oomblik so met die verbystap gesê: “Ons gaan gou in die Blou Grot inswem.” Die bejaarde strandkafee-eienaar het my verseker dat ‘n mens dit ná sesuur saans kan doen en baie vriendelik aangebied om saam met in te gaan!


Die volgende dag is ons met die veerboot Positano toe, en daarna met die watertaxi na die vissersdorpie Priano. Wat ‘n prentjie! Dis ‘n klein dorpie onder in ‘n kloof met net twee hotelletjies en vier restaurante.


Die ou vissermanne sit soggens nette en regmaak en saans kom almal op die kaai bymekaar om sokker te kyk en een aand was daar “live music” uit die 70’s/80’s. Daar is ‘n paadjie al langs die steil rotse uitgekap met trappe af na die water. Hier lei my neus my ook weer na twee klein verrassings. Ek het teen die steil hang uitgeloop na die groot pad om vir ons buskaartjies anderkant die tonnel by die hotel te gaan koop en op ‘n miniatuurdorpie afgekom wat sommer so, in die twintigerjare, langs die pad gebou is – kompleet net soos die werklike dorpie daar onder. Ná die tonnel lei my neus my na die fort onder op die rotspunt en daar wag nog ‘n heerlike verrassing: ‘n kunsgalery met die kunstenaar wat my binnenooi. Die mooiste musiek is die galery vol. Die kunstenaar se spesialiteit is die maak van keramiekborsbeelde van die locals. Hulle is almal daar – die vissers, die hoteleienaars en dan vrouens met groot seewierhare. Hy het ‘n wonderlike sin vir humor. Sy akrielskilderye is van die landskap en dorpies en sensuele, stoute swemmende figure.


Die Europese somersdae is oneindig lank. Daar is tyd vir rustige smul aan die vars croissants van Nonna, die vreeslik mooi ouma van die hotelletjie, en vir Oupa (van wie daar ook ‘n beeldjie in die fort is) se koffie. Daar is tyd om te swem en op gebroke Engels met die Italiaanse vakansiegangers in die water te gesels. Daar is tyd om te lees en in die son te lê. Daar is tyd om agter jou neus aan te loop en selfs ‘n slang raak te loop. En daar is tyd vir ‘n goeie siësta voordat die terugtog aangepak word.


Die terugtog is ‘n panorama. Amalfi is prentjiemooi met sy bekende kerk en al die Limocello- en keramiekwinkels. Die aand eet ons op die kaai en die locals kyk sokker en die band sing Elvis en Neil Diamond.


Die volgende dag pak ons die terugtog per veerboot vanaf Amalfi na Napels aan. Dit wat ons van Napels tussen die hawe en die stasie gesien het, lyk ellendig. Dit is so vuil en so – soos die Duitsers sê – “ondergekom”. Van Napels na Rome ry ons per trein in die geselskap van ‘n Japannese operasangeres en haar ouer prokureur-man. Ons ry deur pragtige landskap, wat my aan die Karoo op sy allergroenste laat dink het. 


In Rome aangekom is ons dankbaar om al ons tasse weer terug te kry. En vir oulaas gaan ons natuurlik weer op die kinders se geliefde Piazza Navona eet. Om vir oulaas die Dolce Vita te ervaar. www.litnet.co.za


 




Vul in jou besonderhede om die 'Die Stem' nuusbrief te ontvang:
Naam:  Epos:   


Visit SA Property Monthly

Visit Exchange 4 Free

Visit Everything SA

Visit Prime Circle

Visit uproar fmx

Visit intergate

Visit sterling property

Visit Homecoming Revolution

Visit Homecoming Revolution

 
Tuisblad | Nuus | Sport | Leefstyl | Reis | Gebeure | Snuffelgids | Verspreiding | Adverteer | Oor Ons | Kontak Ons | Foto's
Site by Bluegrass