Vandag, vir die eerste keer in Sound Bites se geskiedenis, het die agbare lede van ons luisterpaneel daarop aangedring dat dit ʼn eksklusief Afrikaanse extravaganza moet wees. Hulle sê daar is so baie goeie nuwe Afrikaanse musiek dat hulle met alle mag en mening hul eie Afrikaanse Top 10 vir LitNet wou saamstel uit die duisende Afrikaanse CD’s op die mark – ongeag die feit dat daar pas fantastiese nuwe CD’s van onder andere Muse, Sheryl Crow, kd lang, Goldfrapp, Nick Cave & The Bad Seeds, REM, The Rolling Stones en Portishead op die mark is. Wie wil na Afrikaans luister as jy na dié ouens kan luister?
Maar nee, wag. Láát hierdie internasionale grootkokkedore ʼn bietjie opsy staan vir Afrikaans – hulle kan almal nog ʼn bietjie wag en eers in die volgende aflewering van Sound Bites aan die beurt kom, sê Tom Blom gesaghebbend. Yvette de Wet, die ou mediaslet, is egter skepties, want sy sal eerder verkies om na Nick Cave en Mick Jagger te luister as na al die Afrikaanse Bobby’s en Robbies en Nadines en Nedines en Nodines, maar toe sy verseker is dat sy nie gevra sal word om kritiese uitlatings te maak oor CD’s van Kurt Darren, Jurie Els, Nicholis Louw, Patricia Lewis en Melindi Charlé nie, was sy inskiklik.
Beyers Eybers en Fritz Brits moes helaas aanvanklik met drank en dagga omgekoop word deur Tom om hulle diensbaar te stel ter wille van taal en kultuur in plaas van ruk en rol en postcrackle-pop en trip-hop, maar toe almal eers op die Afrikaanse Top 10-wa was, was daar geen keer nie. Die notulehouer het amper van daai wa afgedonder, so begeesterd het die intellektuele reuse op ons paneel geraak.
Geniet die trippie, taalgenote en plesiervennote. (Moet egter nie bekommerd wees nie, stel die eerbiedwaardige lede van ons paneel gerus: hul Afrikaanse Top 10 stem glad nie ooreen met kykNET se vreesaanjaende DKNT nie.) Dit is dus nie Dana Winner se Platinum Collection wat in die eerste plek is nie, maar wel die absoluut fenomenale, briljante nuwe CD van een van ons mees spesiale Afrikaanse kunstenaars. Roffel die tromme, hef op die horings, blaas die trompette en skud die tamboeryne vir nommer een:
Koos Kombuis Bloedrivier
Hierdie is een van die beste Afrikaanse CD’s ooit, indien nie die heel beste nie, het die ingeligte en nugter lede van ons luisterpaneel bevind. Bloedrivier is ʼn meesterstuk, kort en klaar.
Bloedrivier is ʼn oorweldigende ervaring. Om die volle impak te waardeer is die beste manier om hierna te luister, kliphard laat in die nag, in een sitting van voor tot agter. Dit het almal op die paneel, insluitend die verloopte sameroeper, totaal weggeblaas. En ʼn mens kan oor en oor daarna luister sonder om moeg te word daarvoor. Elke keer raak dit net beter en lekkerder.
In ʼn tyd waarin Afrikaanse protesmusiek die afgelope jaar of twee ʼn enigsins patetiese bandwagon geword het, wys Kombuis opnuut, en baie oortuigend, wat protesmusiek wérklik is. Dit is nie aangeplak nie. Dit is nie besaai met clichés nie. Dit is nie eenogig of eendimensioneel nie. Die satire is slim en skerp en nie kunsmatig nie. Historiese perspektief word nie saam met die baba se drinkwater uitgegooi nie.
Beyers sê om een of ander rede laat Bloedrivier hom dink aan Neil Young se protesalbum Living With War, wat twee jaar gelede uitgereik is. Almal het gesê as protesalbum tref Living With War jou soos ʼn vuis tussen die oë en blaas dit nuwe lewe in dié genre. Wel, ons is van mening dat Bloedrivier jou nie tref soos ʼn vuis nie, maar soos ʼn voorhamer – en nie net tussen die oë nie, maar ook die ore, bene en hart. Kombuis skop dus as’t ware stof in Young se oë. Living with War is ʼn Sondagskoolpartytjie vergeleke met Bloedrivier.
Dit is sy eerlikheid wat Koos Kombuis nog al die jare uitgelig het bo 99 persent van al die miljoene Afrikaanse musiekmakers. Hy is ʼn voorbeeld aan ander kunstenaars dat die belangrikste reël is dat jy aan jouself getrou moet bly, ongeag die verwagtinge van wie ook al. Om ondanks teenstand en aanvalle deur afgunstige oudkollegas (in baie gevalle onder skuilname) steeds jou eie ding te bly doen, op jou eie manier en heeltemal eerlik en sonder pretensie.
ʼn Mens sien daarna uit dat Bloedrivier die mense aan die praat kry. Daar behoort debatte en diskoerse oor hierdie album gevoer te word op die meningsblaaie van koerante en tydskrifte en in radioprogramme. Daar is so baie dinge oor hierdie CD te sê dat ʼn kort resensie soos hierdie nooit reg daaraan kan laat geskied nie. ʼn Mens kan byvoorbeeld net dink hoe dit die polities-korrekte siele onder ons sal ontstig, en dit behoort groot pret af te gee om te hoor hoe hulle mekaar in openbare forums aan die strot gryp.
Dis lekker om Kombuis weer kwaad te hoor. “Reconciliation Day” is loshande die mees bloedstollende versetlied oor misdaad, geweld en politiek tot nog toe in Afrikaans. Die rou woede is tasbaar. Dit is dinamiet. Oor “Die Fokkol Song” het die paneel baie geargumenteer: Yvette en Alice voel dis ʼn oordrewe doemprofesie. Beyers en Tom meen dit is ʼn realistiese profesie. Fritz sê dis hoog tyd dat al hierdie dinge hard en duidelik gesê word. Die sameroeper sê dis ʼn befokte song daai – met die donderende kitare, moerse groot koor wat saamsing, en die trombone en trompette en ander horing- en blaasinstrumente. As Schalk Joubert nie vir hierdie CD benoemings kry vir pryse vir die beste produksieleier en verwerkings nie, eet ons almal op die paneel De la Rey se doodsmasker op.
Die CD is baie slim aanmekaar gesit om dit vir jou soos ʼn trip op ʼn emosionele roller coaster te laat voel. Die woedende, oorweldigende rock-songs word net op die regte oomblikke afgewissel met puik ballades soos “Oumense moenie in die water mors nie”, “Mercy Me”, “Waar is Mandela” en “Matjiesfontein”.
Kombuis se skryfwerk is nog net so goed soos altyd, indien nie nog skerper nie. Luister na ʼn paar uittreksels uit lirieke: “Hulle skiet jou van agter as jy sibbolet sê, hulle skiet jou van agter wat jy ook al sê,” sing Kombuis in “Waar is Mandela”. En: “Waarheen moet ek vlug as my land aan die brand is, as daar net broedertwis in al wat koerant is. Hulle veg vir die taal, hulle vrees revolusie. Hulle skryf en baklei vir die beste posisie terwyl die honger spook loop deur Cloetesville en Atlantis … Wat moet ek doen as die land begin vrot. Die boere praat oorlog en van hulle God.”
En in “Die einde van die reënboog”: Die Afrikanervolk is leierloos, sy wyse manne almal voos. Breyten het gefokkof en Marthinus is ʼn doos … Daar’s tsoenami’s in die ooste en bomme in Irak. By ons eet almal pap en vleis maar nogtans voel ons kak. Israel is in vlamme, Zimbabwe het niks brood, maar my mense sit en worry oor die taal en oor Dan Roodt.”
Hierdie is maar net enkele van die talle treffende woorde op die CD. ʼn Mens het hier immers te doen met die werk van ʼn digter in die ware sin van die woord. Hy kan jou laat lag én huil én dink. Hy laat jou hoop én wanhoop. (Van hoeveel Afrikaanse sangers kan ʼn mens dit sê?)
Daar is nog baie, baie meer te sê oor hierdie CD. Die beste raad wat ons aan lesers kan gee, is om op die omslag hier bo te kliek met jou muis (nee, nie daai een nie) en Bloedriver terstond te koop. Dit is verpligtend. Daar is min albums waarvan ʼn mens kan sê dat dit ʼn ongekwalifiseerde meesterstuk is. Hierdie is een van hulle.
vir die ander top 9 resensie en meer informase besoek www.litnet.co.za
|