






 




|
 |

Fokofpolisiekar stel dosis Antibiotika vry | 
| | Aan die einde van September 1928 het die Nobelpryswenner sir Alexander Fleming die baanbrekende antibiotiese middel penisillien ontdek. Presies 70 jaar later, aan die einde van September 2008, stel Fokofpolisiekar Antibiotika van ’n ander aard vry in die vorm van hul jongste kortspeler en DVD. Die ooreenkoms? Beide kan voorgeskryf word. Deur Annie Klopper | Antibiotika is Fokof se sesde uitreik sedert hulle totstandkoming in 2003. Baie het verander sedert die vroeë As jy met vuur speel sal jy brand-dae. Buiten dat dié groep Afrikaanse rock tot nuwe hoogtes gevoer het, is daar bewys dat punkrock in Afrikaans kán werk en die f-woord boonop nie meer noodwendig gesensor hóéf te word in die media nie. Koerantopskrifte soos “Fokof verdeel kerk” of “Kommissie gevra om grondwetlike leiding oor die ’Karre te gee” sal boonop nooit weer vreemd wees nie. Ek wil my verstout om in ’n sekere sin saam te stem met Steve Hofmeyr wat onlangs in ’n onderhoud gesê het: “Vandag moet jy darem ver gaan om weird te wees, […] dis als gedoen in Afrikaans.”
Ja, Afrikaanse musiek is deesdae definitief gevarieerd en nie meer beperk tot “my nooientjie in die moerbeiboom”-lirieke nie. Maar daar is altyd ruimte vir verbetering. En Fokofpolisiekar is een van die groepe wat met puik vakmanskap en produksie voortdurend nuwe kreatiewe grense daarstel. (En natuurlik nie oor nooientjies in moerbeibome sing nie.)
Antibiotika bestaan uit ’n kortspeler met vier splinternuwe liedjies en ’n gepaardgaande DVD. Laasgenoemde bevat agt van die groep se musiekvideo’s, asook ‘n voorsmakie van die film/dokumentêr oor Fokofpolisiekar wat deur die produksie-maatskappy Fly on the Wall vervaardig word vir uitreiking later vanjaar.
Die titel, Antibiotika, is afkomstig uit die titelsnit wat op musikale vlak herinner aan “Brand Suid-Afrika” en waarin sosiale kommentaar onomwonde deurskemer in die woorde:
mik vir my hart dit pomp wildernis hier binnekant ek’s net ’n toeris in my geboorteland ’n gekwesde dier in ’n hok op antibiotika.
Die titel suggereer ook dat hierdie album dien as raat vir die pyn van siele wat gedink het dat die SAMA-bekroonde Swanesang (2006) Fokof se kniebuiging was. Blykbaar moet Antibiotika die lyding van afwagtende aanhangers tydelik verlig tot die uitreik van die volgende vollengte-album. En indien hierdie vier liedjies enigsins ’n aanduider is van wat in die toekoms verwag kan word, lyk die prognose goed. Tussen Swanesang en Antibiotika het die groeplede ’n tydelike breuk van Fokofpolisiekar geneem en aangesluit by ander projekte. Dit was ’n groeiproses wat die ’Karre met hernude, maar ook ontwikkelde, energie aan die nuwe liedjies laat werk het. Buiten kommentaar op die sosiopolitieke stand van sake in Suid-Afrika, is daar ’n verganklikheidsbewussyn in die lirieke te bespeur. “Tussen die krake”, ongetwyfeld die móóiste lied op die album, is pynlik pragtig met melancholiese gewaarwordings oor hoe die dood reeds sluimerend aanwesig is in die lewe, soos met die volgende woorde, wat herinner aan die konsep van “lewendood” à la Breytenbach:
my brose verstand wat wit, warm soos ’n jong vlam hierdie lopende doodskis verteer. Later in dieselfde lied volg die poëtiese waarneming van die vitaliteit van kunstenaarskap en nuwe identiteit ten spyte van ’n problematiese verlede: in ons verbrokkelende fondasie is daar nou lewe in krake waar daar eers niks was nie.
Maar nie sonder die Fokofpolisiekar-skeptisisme nie: en ons sal bly en veg en sodoende ons menswees verloor maar wat bly dan oor?
Ek is geen geneesheer nie, maar ek skryf graag Antibiotika voor. www.litnet.co.za |
|
|
 |









|