Alhoewel baie van ons Engels vlot verstaan, bly dit lekker om ‘n mens se eie taal op die skerm te sien. In plaas van “File” of “Help” sien mens dus eerder “Lêer” en “Hulp”. Mens raak dit vinnig gewoond en dit maak mens trots op mens se taal, en help mens om in meer opsigte mens se taal te onderhou. Daar is geen rede hoekom tegnologie nie ook in ons eie tale gebruik kan word nie. As mens die radio of ‘n koerant in Afrikaans kan hê, hoekom nie ook iets op die Internet nie? En hoekom dan nie sommer ook die program waarméé mens dit doen nie?
Vandag kan mense die webblaaier (web browser) Firefox, die e-posprogram Thunderbird, en die kantoorsuite OpenOffice.org alles in Afrikaans kry.Daar is ook verskeie ander programme en dienste beskikbaar, baie waarvoor Translate.org.za nié verantwoordelik is nie. Ons sien hoe daar toenemende belangstelling is van allerhande mense om tegnologie in en met hulle eie taal te gebruik en beskikbaar te stel. ‘n Lys van enkele programme in Afrikaans is hier beskikbaar: http://translate.org.za/content/view/1816/51/lang,af/
Translate.org.za is ‘n nieregeringsorganisasie wat probeer om vrywilligers te help met raad, tegnologie en kontakte om die gemeenskap van mense wat hierin belangstel, uit te brei tot sy volle potensiaal.Ons werk saam met professionele vertalers, regeringsdepartemente, akademiese instellings, maar bowenal met vrywilligers wat passievol is oor hulle tale. In ons werk het ons gevind dat dit nie altyd so maklik is vir vrywilligers om betrokke te raak nie, en het begin werk aan allerhande programme en dokumentasie om mense mee te help.
Ons tegnologie het nou al aftrek gekry by verskeie taalgemeenskappe buite Suid-Afrika, en word deur talle ander projekte gebruik, soos Mozilla (wat Firefox maak), Sun Microsystems (wat OpenOffice.org maak), Creative Commons, die One Laptop Per Child-projek en verskeie ander.Al die vertaalwerk wat ons doen, dra ons by tot “Vry Sagteware” - projekte wat programme versprei onder ‘n lisensie wat ons vryhede gee om dit aan te pas en te herversprei, soos Mozilla Firefox. Alhoewel hierdie programme gewoonlik ook gratis is, gaan dit om veel meer as net die koste - juis die vryheid om ons taal daarmee te bemagtig.
Al die programme vir vertaling wat ons maak, stel ons ook só beskikbaar vir enigeen om te gebruik. ‘n Mens kan dus sonder veel moeite of onkoste ‘n mens se rekenaar darem ‘n redelike klomp Afrikaans leer.
Vir meer inligting, besoek gerus ons webwerf by http://translate.org.za/?lang=af
|