Soos ons stap, ruik ons vis en speserye. Klein dogtertjies met stywe strikkies waai en koes vinnig agter hulle handjies weg. Ou vroue met doekies oor hulle koppe beduie met helder stemme na die winkel wanneer ons stop en rigting vra.
Wanneer ons uiteindelik daar kom, is dit ’n wonderwêreld van geure en kleure. Dit is heelwat donkerder binne as buite, maar as jou oë eers aangepas het, lyk dit soos ’n prentjie.
My vrou raak vreeslik opgewonde in sulke winkeltjies en haar harde uitroep van blydskap laat ’n hele paar dankbare helpers aangedraf kom.
Sy raak met hulle aan die gesels en ek begin deur die winkel dwaal met ’n belofte om netnou uit die lappe op haar kortlys te kom help kies.Die handgereedskap en skoene interesseer my nie veel nie. Die klere-afdeling is klein en ontsettend vol. Daar is die mooiste hemde en wonderlike bont dasse.
Toe sien ek haar.
In die Kaap is daar nie baie ortodokse Moslems wat van hulle vroue of dogters verwag om geheel en al in swart te loop nie, maar hier en daar sien jy tog sulke vroue. Een van hulle, heeltemal in swart gehul en daarom van onbekende ouderdom, is besig om tussen die fyn, frillerige ondergoedjies rond te snuffel. Agter haar staan ’n ander vrou, ook geheel in swart. Van haar postuur en die ietwat groter lyf kan ek aflei dat sy waarskynlik ouer is.
Ek koes agter ’n rak vol dasse in.
Die voorste vrou tel ’n broekie op en laat dit weer val. Sy neem ’n deursigtige bra en speel daarmee om haar vinger wat in ’n swart handskoen gehul is.Die klaarblyklik ouer vrou beduie aan een van die helpers om nader te kom, maar vra dan dat dié vir ou mevrou Radyn sal gaan haal.
Die jong helper draf weg en sommer gou-gou verskyn mevrou Radyn. Sy is ’n groot vrou in ’n los geblomde rok met ’n fyn geblomde sykopdoek wat glad nie probeer om haar grys hare weg te steek nie.
“Kan ek help?” vra mevrou Radyn.
Die voorste vrou knik. “Ek trou volgende week,” kom dit van onder die swart doek. “Ek soek iets moois en sexy wat ek kan aantrek, sodat Rasheed sal hou van dit wat hy sien as ek al hierdie ander klere uittrek.” |