Dit is asof Mandela regtig net nie ‘n greintjie kwaadwilligheid in hom het nie. En as hy besluit ‘n ding gaan gebeur, dan kan jy seker wees daar gaan iets van kom.
So toe hy laasjaar met die onthulling van sy standbeeld in Parliament Square vir Londonders vra om vir hom ‘n verjaardag partytjie te reël, toe weet ek hier kom ‘n ding. Ek’t gewonder hoekom hy sy 90ste verjaardag in Londen wou vier. Mandela het regtig oud geword en sukkel vreeslik om te loop – ‘n 11-uur vlug vanaf Suid-Afrika moet regtig moordend wees vir. Tog het ek het sy verduideliking dat die Britte altyd van die ANC se grootste ondersteuners was aanvaar, maar ek moes geweet het dat Madiba, soos met alle ander dinge wat hy doen, iets in die mou voer.
‘n Groot konsert in die somer in Hyde Park is soos dit is reeds ‘n aangename ondervinding, maar as dit is om Suid-Afrika se held se verjaardag te vier dan is ek dubbel-en-dwars reeds daar. Per slot van rekening, na hoeveel van Nelson Mandela se verjaardae gaan mens die geleentheid kry om te gaan in ‘n leeftyd? Maar soos dit nou maar in Londen gaan was die geld weer skaars teen die tyd dat kaartjies gekoop moes word . 60-pond is baie geld vir ‘n konsert en dan moet daar nog iets te ete en te drinke ook gekoop word.
Maar waar daar ‘n wil is, is daar ‘n weg. So groot was my blydskap toe die redakteur van my ou werkgewer, die radiostasie Jacaranda 94.2fm in Centurion, Suid-Afrika my bel en vra om die konsert vir hul nuusuitsendings te dek. Ek kry nie net ‘n mediapas, toegang tot die media area agter die verhoog en die geleentheid om die konsert te sien nie, maar ek word betaal om daar te wees! Wat meer kan ‘n man vra? En toe my meisie en huismaats my vertel dat hulle kaartjies vir halfprys op die Gumtree gekry, kon ek my opgewondenheid skaars beteuel.
Toe die groot dag eindelik aanbreek het ek seker gemaak dat ek sommer teen middagete al in Hyde Park is om in die gees van dinge te kom. En wat ‘n gees was daar nie in Londen daardie Vrydag nie. Dit was asof daar ‘n wolk met Madiba-magic oor Londen gedaal het. Self op die trein was dit asof almal ‘n bietjie vriendeliker was as gewoonlik. Die normaalweg nors Londeners kyk mos nie links of regs nie en praat net met vreemdelinge as hulle op hulle skel, maar daardie het ek kort-kort mense hoor gesels oor die Groot Man se partytjie en of hulle dit gaan bywoon of nie. Om ‘n kaartjie vir die konsert te hê was regtig iets om oor te spog en jy’t hom veilig weggebêre.
By Hyde Park aangekom was dit nogal ‘n gesig om te sien hoedat die mense uit alle rigtings na die hekke stroom. Asof niemand in Londen iets anders gehad het om te doen daardie dag nie. En soos altyd, het die Suid-Afrikaners oral uitgestaan soos seerduime. Net waar ek gekyk het, het ek Springboktruie en reenboogvlae gesien. Dit was verblydend om so baie Suid-Afrikaners, van alle kleure geure, saam te sien opruk vir ‘n gemeenskaplik doel: om hulde te bring aan ‘n man wat sy lewe opgeoffer het vir die welsyn van ander.
Toe snap ek waarom Madiba sy verjaardag in Londen wou vier. Hy het geweet as hy die Britte vra om vir hom ‘n verjaardagpartytjie te reël, hulle sou luister. Maar selfverheerliking was nog nooit een van Mandela se karaktertrekke nie. Die man kaap toe sy eie partytjie om sy 46664 welwillendsheidorganisasie vir mense met VIGS te bevorder. Want waar wil jy ‘n groter verhoog hê as die ene, in die wêreldstad Londen, met al wat tv-nuusstasie en koerant is daar, om jou boodskap aan die wêreld oor te dra?
En ons weet nou al as Nelson Mandela praat, dan luister die wêreld. Hy kan skaars loop, maar hy het geweier om in ‘n rolstoel na die mikrofoon gebring te word om sy toespraak te hou. Met sy vrou Graca Machel aan sy linkerkant en Will Smith aan sy regterkant het hy self mikrofoon toe geloop. Teen die tyd dat hy begin praat het was ‘n hele aantal mense rondom my reeds in trane.Nadat hy almal bedank het vir hul ondersteuning het hy onmiddelik ons aandag daar opgevestig, dat wat ookal hy in sy lewe deur is, niks invergelyking is met wat baie ander mens daagliks in die wêreld deurgaan nie. En dat hy met behulp van ander mense reeds baie dinge kon doen om sommige mense se lyding te verlig, maar dat hy nou te oud is en dat dit tyd vir hom is om die fakkel aan ons, die nuwe generasie te oorhandig.
Die konsert self was ‘n uiters professionele en genotvolle affêre. Ek hou nou maar een maal van harde rock musiek, maar ek sal jok as ek sê ek het nie elke kunstenaar se vertoning geniet nie. Van die Sugababes tot Will Smith en Leona Lewis was ‘n belewenis. Will Smith was die aanbieder ook en niemand kan ooit vir ‘n beter gasheer gevra het nie.
Teen die tyd dat Queen Mandela se boodskap by ons ingehamer het met liedjies soos One Vision, The Show Must Go On en We Are The Champions, moes ek al skoon moeg van hoendervleis kry. Dit was ‘n ongelooflike dag en ek is begeesterd en gedetermineerd daar weg om betrokke te raak by veldtogte soos 46664 en Make Poverty History.
In een dag het een man my oortuig dat ons wel ons toekoms kan verander en dat daardie toekoms in ons hande is.
|