Ek praat nie van die misdaad en die politieke korrupsie en die aaklige Afrikaanse musiek op Radio Sonder Grense nie – wel, dit ook! – ek praat van al die nuwe openbare vakansiedae en spesiale herdenkingsdae wat deesdae op die Suid-Afrikaanse kalender pryk.
Dis nie net van die Ou Suid-Afrikaanse vakansiedae (soos Geloftedag) wat skielik afgewater is tot vae konsepte (soos Erfenisdag) nie. Daarvan het die meeste van julle wel teen hierdie tyd al gehoor! Dis die totaal onverwagte mode-dae, soos Sekretaresse-dag, soos Baas-dag, ensovoorts. Hierdie dae is nie gewortel in die oeroue geskiedenis van ons beskawing soos byvoorbeeld Kersfees of Yom Kippur nie. Dis nie deur Moses op ‘n kliptablet oorhandig, of ontdek in ‘n grot naby die Rooi See nie. Dis triviaal. Ek vermoed dis alles net geldmaak-foefies.
Maar het ons regtig nog geldmaak-foefie-dae nodig? Daarvoor het ons mos reeds Moedersdag en Vadersdag!
En wie is dit wat nou juis besluit op watter dag hierdie nuwe vakansiedae moet val? Is dit byvoorbeeld ‘n toeval dat Nasionale Braaidag in die middel van Ramadan val? Is dit nie verskriklik onbeskof nie? Hoe sou jy gevoel het as jy ‘n Moslem was, en probeer konsentreer op die wondere van die Koran, en tweeuur die middag is al jou Christen-bure besig om varktjops op die kole te sit en luidrugtig brandewyn en Coke te drink?
Die ergste nuwe vakansiedag wat ek van weet, gebeur juis nou, hoewel dit nòg ‘n dag is nòg ‘n vakansie. Dis ‘n hele week. Terwyl almal nog steeds werk toe gaan soos gewoonlik, is ons vanaf 15 tot 19 Oktober besig om “Obesity Week” te vier. In Afrikaans vertaal beteken dit: “Die Vet Ouens se Week”. Ons week. Ouens soos ek. En Barry Ronge. En Vloog Theron.
Maar dis nie asof iemand in “Obesity Week” presente gee vir vet mense, soos wat hulle op Moedersdag presente gee vir hulle ma’s nie. O nee! Dis ook nie asof hulle ons bewonder, soos wat hulle cleavages bewonder op National Cleavage Day nie. Tydens “Obesity Week” word alle mollige mense jammer gekry, word ons ge”patronize”, word ons aangemoedig om gewig te verloor. Niemand vat ons na ‘n steakhouse toe nie! Ons kry nie eers mooi kaartjies oor die pos nie! (On second thoughts, ek is nie seker of ek sulke kaartjies oor die pos wil hê nie.)
Waar kom hierdie aaklige konsep vandaan? Wie het dit uitgedink? Waarskynlik die Amerikaners! Hulle het mos ‘n ding oor vetsug! Was dit ook hulle blink idee was dit dat “Obesity Week” net mooi na Thanksgiving – daardie dag wanneer alle Amerikaners hulle oorvreet aan kalkoenvleis – moet val? Is dit moontlik dat hulle vir die eerste keer in die geskiedenis die begrip “ironie” onder die knie gekry het?
In ieder geval, dit sou alles nog okei gewees het as ek nie onlangs die skok van my lewe gekry het toe ek opdaag by die Huisgenoot Skouspel in Sun City, net om te ontdek die meeste van my vriende in die musiek-industrie was onlangs – blykbaar agter my rug – op hoogs suksesvolle dïete. Ja! Laurika Rauch lyk nou soos Slaptjips. Mauritz Lotz het ten minste veertig kilogram verloor. Nianell het nog nooit so sprankelend jonk en slank voorgekom nie – en dit na die GEBOORTE van haar DRIELING! Dis nie fair nie! Die enigste ou wat ‘n klein bietjie uitgesit het om die kiewe – Kurt Darren – is nog steeds meer handsome as ek! Gross!!
Op hierdie bittere en jaloerse noot sluit ek hierdie maand se sware rubriek af… |