Mariah Carey E = MC²
Universal
Hoe om ‘n probleem soos Mariah aan te pak…? Sy wat 786 note in 6 sekondes kan sing, kristal kan laat kraak, haar bene digitaal laat verleng in foto’s en wat versot is op skoenlappertjies. O ja, en heeltemal mal is. Wel, mens luister maar. Luister met geknypte boude.
Eerste op is Migrate met 'n tipiese akrobatiese vokale begin, voor 'n stewige hip-hop ritme die pyn effens verdoof. Dit is 'n heel OK begin, as jy van daai 'meisie stel haar saak/seun stel syne' lirieke oor niksseggende 'strip club' (soos in Teazers) musiek hou. Die aaklige Touch My Body (met bypassende net-so-aaklige tartan en geknoopte hemp musiekvideo) laat Britney soos 'n professor in sielkunde klink - wat ons almal weet sy obviously nie is nie. I Stay In Love is een van haar kenmerkende krag-ballades uitgehamer oor klawers en I'm That Chick klink amper soos 'n Rhianna nommer.
O.O.C. is die enigste een met 'n tikkie oorspronklikheid, met easy listening vibes en lui club ritme. Bye-Bye (ja asseblief!) is 'n lied vir "people who lost their grandmothers"... fok, sprakeloos. Heeltemal.
Hierdie album het my drie belangrike lesse geleer: 1) Mariah Carey se musiek klink alles presies dieselfde, 2) Haar stem klap enige subtiliteit uit alles uit, amper soos 'n megafoon en 3) Dit vat nie 'n genius om uit te werk dat E = MC² 'n pot kak is nie.
0.5 uit 5
Various Ed Recs Vol.3
Ed Banger
Le Chic Français man Busy P, oftewel Pedro Winter, Ed Banger baas en ook Daft Punk se manager, weet ‘n ding of twee van wat klink goed en wat klink kapoet. En Vol.3 is ‘n meesters klas in wat die jonk, helder en hip na gaan luister oor somer 2008.
To Protect And Enetrtain is ongelukkig ‘n effe sif begin, maar dinge verbeter gou. Mr. Flash se Over The Top is presies dit, met 80’s pop-rock ironie, Sebastian skok en verheug met Dog se skreeuende daans-metal, sexy Uffie gooi dit dominatrix styl oor PVC disko met Robot Oeuf en Mr. Oizo se mal trompetter en syfers collage van Minuteman’s Pulse is heel vermaaklik.
'n Ander hoogtepunt is DSL se Find Me In The World met seepgladde produksie en selfs gladder Franse rap. Hy mag dalk oor poepelaters en tampons rap vir al wat ek weet, maar dit klink super koel. Feadz en Spank Rock se Back It Up is lekker rof en vuil ghetto-tech en sal enige teepartytjie sommer tjop-tjop in ‘n shebeen skandaal verdraai, perfek vir ‘n Son voorblad.
Al die tracks is met ‘n hewige skoot elektro gegeur en bring die mal pot klanke en style saam as ‘n album. Laai hierdie uur of wat op jou pod, krap jou hare deurmekaar, sit jou git-swart sonbril op (dit skerm jou oë van die common klomp) en light ‘n Gauloise…. Cocaine vir jou oordromme*
4 uit 5
*dwelms en sigarette is ongesond.
|