Autechre Quaristice
Warp
As jy iemand is wat neig tot uitbarstings van “Jou CD speler klink gebreek…”, “Wanneer begin hulle dan sing?” of “Dit maak nie sin nie…” moet jy maar sommer nou ophou lees en gaan tee brou.
Jy sien, Autechre maak nie soseer ‘musiek’ nie. Eerder abstrakte, fassinerende klank opnames, ontwerp (en glo my, ontwerp is die regte word) om te verras, verbaas en uitdaag in gelyke dele. Die naaste wat hulle kom aan tradisionele instrumentasie is ‘n verdraaide klawer of twee. En dit was op hulle debuut album 14 jaar gelede!
9de album Quaristice bestaan uit 20 korter klank sketse, vol oneweredige tempo’s, sintetiese klanke en teksture. Noodloos om te sê, goeie oorfone is ‘n moet en laat die audio-argitektuur tot sy volle reg kom. Die eerste helfte van die album is nogals hoog op die ‘wat die fok’ faktor, veral Fol3: die klank van ‘n kar ongeluk, in stadige-aksie. Agteruit. Vir 3+ minute…
Maar met die broeiende Tankakern begin dinge darem bietjie meer vorm aanneem. Die mutant ritme van rale en onaardse gebrom van 90101-5l-l is ook interessant en die hiperaktiewe bnc Caslt en acidic chenc9 is luisterbaar, maar niks staan uit of laat jou regop sit nie (nie vir die regte redes nie, in elk geval).
Quaristice is slegs vir die mees geharde en avontuurlustigste van klank verkenners onder julle. Ek sal graag eerder hulle vorige album, die fantastiese ritmies-komplekse Untilted, aanbeveel, as jou ore geprikkel en poke wil word. 2.5 uit 5
Clinic Do It!
Domino
Vroeë singles soos Walking With Thee en The Second Line het Clinic bitter naby aan die hoofstroom gebring, maar die Liverpudlians is steeds gelukkigste net onder die pop radar met die vryheid om te doen net wat hulle wil. En Domino is die perfekte huisvesting, met hul 5de album Do It!, hul mees afgerondste stel nog.
‘Afgerond’ is miskien effe misleidend… Onvoorspelbaar, speels en ‘n lieflike deurmekaar gemors is meer akkuraat, met die hele kombuis en al in die mix ingegooi! Memories verras met sy balans van wiegende tienkie-pop, growwe garage rock en harp. Free Not Free se bassline herinner aan Iggy se Lust For Life, en Free Not Free is amper easy listening met sagte focus raampie, maar word ’n paar keer deur elektriese kitaar verskrik, voor Shopping Bag se karnaval punk stomp inbars!
Die afgemete tempo en aflewering van Corpus Christi wys hulle kan Pandora se boks ook toe hou as dit moet, terwyl die dringende High Coin ‘n hoogtepunt is met sy drywende orrel. Dit klink soos Interpol dalk mag na ‘n bottle Absinth of twee. Mary & Eddie suiker in met kastanjette en dan ’n geblaas wat klink soos die Titanic net voor die ysberg dit afkak. Genugtig…
Ade Blackburn se alomteenwoordige half mompel, half lispel stem rond hulle avonture af. ‘n Stem wat opinies gaan verdeel en net ‘n ma kan liefhê. Aanhangers van vroeë Beck of Arcade fire kan gerus hierdie vrugtekoek van ‘n album aanskaf! 3.5 uit 5 |